Ek en Melissa lê op die strand. My suster het al ‘n lekker tan. Haar eksamen by die varsity het vroeg klaargemaak. Sy en haar vriendinne en hulle boyfriends het al weke voor die tyd langs die swembad goudbruin gebak. 

Ek, aan die ander kant, voel so wit soos ‘n weekdier waar ek met my nuwe bikini in die son lê. Die bikini was Melissa se idee. Dis ‘n hele ent kleiner as enige iets waarin ek gemaklik voel. Ek wens ek het haar donker krulhare en vel gehad in plaas van blonde hare en ‘n ligte vel wat maklik kreefrooi brand. 

“Wat dink jy doen Ma en Pa?’ vra Melissa met ‘n lui stem. 

Ek loer bo-oor my boek. “Ek weet nie. Hoekom?” 

Sy lag. “Het jy hulle vanoggend gesien? Ná ontbyt het hulle gelyk soos twee kleuters wie se favourite speelgoed afgevat is.” 

My ouers het vooraf afgespreek om nie hulle laptops saam te bring nie en hulle selfone af te sit. 

“Dalk moet jy ‘n slag jou boeke ook bêre,” sê Melissa met ‘n tergende stem. “As Ma en Pa dit met hulle tegnologie kan doen …” 

Ek rol my oë vir haar. “Wat anders is ek veronderstel om hier op die strand te doen?” 

“We-e-e-el …” Melissa lag ondeund. “Jy kan die talent uitcheck … Het jy daai sixpack daar anderkant gesien?” 

Ek trek vir haar ‘n gesig. “As Markus uitvind jy lê en check ander ouens uit, los hy sy vakansiewerk en kom sommer môre al kuier.” 

Melissa se ou gaan ‘n paar dae voor Kersfees deurry om saam met ons vakansie te hou. 

“Kyk is vry,” sê sy met ‘n skoueroptrek. 

Ek snork. “Wel, ek stel nie belang om vir enige van die ouens op die strand te kyk óf met hulle te vry nie. My boek is baie interessanter.” Ek duik met my neus terug in my boek. 

Melissa lag. “Hmmm, ek dink daai hunk daar anderkant het ander planne. Hy check jou al die afgelope halfuur uit.” 

Teësinnig laat ek weer my boek sak. “Strooi, man.” 

“Kyk self,” sê sy en beduie met haar kop na regs. “Daai klomp wat volleyball speel. Die ou met die rooi swembroek.” 

Ek wil nie omkyk nie. Maar ek kan dit nie help nie. 

En dadelik word my gesig vuurwarm. 

Ek kyk reg in sy gesig vas. 

Hy glimlag ‘n breë wittandglimlag. Dis duidelik dat hy dink ek check hom uit. 

“Flippen hel!” prewel ek deur saamgeperste lippe. “Melissa, hy’s op pad hiernatoe!” 

Melissa proes van die lag. 

Ek maak of ek aanhou met lees. Maar ek kan nie vir ewig die paar gespierde, bruingebrande bene ignoreer wat voor my staan nie. 

“Haai, ek’s Drikus. Wil jy saam met ons volleyball speel?”