Hy lyk verbaas toe hy die deur oopmaak. Ek het duim vasgehou dat hy die deur sal oopmaak en nie sy ma of pa nie.

Sonder ‘n woord, asof ons dit vooraf afgespreek het, gaan sit ons op hulle stoepmuurtjie.

“Ek wil net sê jammer oor gisteraand. En dankie,” sê ek ná ‘n lang stilte.

“Dis die heel eerste keer in my lewe dat ek ‘n ou foeter,” sê hy droog.

“Gelukkig was Markus daar om te help. Ek het nie eens sleg gevoel dat ons twee teen een was nie. Die vark het dit verdien.”

Ons al twee bly weer ‘n ruk lank stil. Uit ‘n huis verder af in die straat speel Jingle Bells kliphard.

“Hoekom het jy vir jou pelle gesê dis net ‘n vakansieromanse?” vra ek.

Sy groen oë is onpeilbaar toe hy na my kyk. “Dis jóú skuld …”

“Wat?!”

Hy vee sy kuif uit sy oë. “Onthou jy daai dag toe jou suster jou gevra het of ons twee net ‘n vakansieromanse is?”

Dit neem ‘n oomblik voordat ek begin besef wat hy bedoel. Agge nee …

“Laat ek raai – jy’t ons afgeluister?”

“Ek het nie bedoel om af te luister nie.”

“En ek het nie bedoel wat ek gesê het nie.” My wange gloei. “Ek was net skaam om voor Melissa te erken ek hou van jou.”

Hy leun stadig vorentoe en soen my.

“Ek hou van jou ook. Baie.”

“Hier.” Ek hou die boek wat ek vir hom gekoop het na hom uit. “Jammer, ek het dit nie toegedraai nie.”

Iemand skiet vuurwerke op die strand. Die lug word ‘n oomblik verlig deur strepe rooi en groen vonke. Pierre sit sy arm om my skouer en druk my styf teen hom vas. Sy lyf is warm en hy ruik na see en son.

“My pa het netnou ‘n groot aankondiging gemaak terwyl ons geskenke oopgemaak het,” sê ek van onder sy arm. “Hy en my ma het besluit dis tyd dat ons ‘n strandhuis koop. Hulle het ‘n aanbod gemaak op die huis wat ons huur.”

Pierre lag verbaas. “Jy bedoel ons gaan vakansiebure word?”

Ek knik.

“Beteken dit ek kan uitsien na nog ‘n vakansieromanse met die buurmeisie volgende vakansie?” vra hy met ‘n ondeunde vonkeling in sy oë.

En voor ek kan antwoord, soen hy my dat my asem wegslaan.

DIE EINDE