Twee weke voor my sestiende verjaardag gebeur daar twee wonderwerke.

Ons Venters gaan vir die eerste keer in jare met vakansie. 

En ek raak halsoorkop verlief op ‘n wildvreemde ou. 

Oukei, kom ek verduidelik.

Die woord “vakansie” bestaan nie in die Venter-woordeboek nie. As werk ‘n soort dwelm was, was my ma en pa albei volslae druggies. My pa glo heimlik die internasionale markte sal in duie stort as hy ‘n paar weke verlof neem. En my ma haat dit om haar gastehuis in enige iemand anders se hande te laat. Hulle is twee liewe, dierbare control freaks. 

So, ek en Melissa is al van kleins af daaraan gewoond om vakansies by die huis langs die swembad of in die malls deur te bring. 

Maar toe kry my pa die hartaanval vroeër die jaar. En die dokter sê hy moet dinge rustiger begin vat. Ek dink hy en my ma het regtig groot geskrik. En dis waarom ons vir ongeveer die eerste keer sedert ek doeke gedra het, saam weggaan. Vir ‘n regte egte vakansie. 

En die tweede wonderwerk? 

Wel, kom ons sê maar net ek’s nie die soort girl wat ooit halsoorkop vir wildvreemde ouens val nie. Dalk omdat daar nie hope wildvreemde ouens is wat regtig in my belang stel nie. 

“Vicki, as jy ‘n slag daai oulike wipneus van jou uit die boeke kry, sal die ouens oor hulle voete val om by jou aan te lê,” sê Melissa altyd. My ouer sussie is ‘n ego-booster duisend. 

Maar hier’s die naakte, onverdunde waarheid: Ek, Vicki Venter, is bietjie van ‘n nerd. En ek verkies voorspelbare storieboekhelde bo ingewikkelde vlees-en-bloed-ouens. 

Daar, ek het dit gesê. 

Daarom tref die bruingebrande ou met die ligbruin krulhare en seegroen oë my soos ‘n onverwagse brander wat my voete heeltemal onder my uitslaan.