Een van die nagklubs in die stad hou ‘n spesiale under 18’s party. Die Heuwels Fantasties tree op. Ek en Nita is daar. Ek soen haar kort-kort. Ek lag as sy ‘n grappie maak. Ek hou haar vas met my hande.

Nie met my hart nie.

Iets is verkeerd. Ek het dit geweet daardie eerste keer toe ek haar gesoen het.

Niks is verkeerd nie, raas ek met myself.

FLIPPEN NIKS NIE!

Jy lieg vir jouself, sê ‘n binnestem. Jy het nog altyd. Ek maak of ek nie die stem hoor nie.

“Ek gaan gou badkamer toe,” sê ek vir Nita na ‘n ruk.

“Is jy oukei?” vra sy. “Jy lyk bleek.”

“Ek het nog nie vanaand geëet nie,” sê ek. Ek weet nie of sy my hoor nie. Die musiek is te hard.

Ek maak ‘n pad deur die mense in die klub. Lywe skuur teen myne. Orals is stemme. Musiek.

Ek breek deur die gepakte klub. Neonlig blink op my hande, my klere.

Ek stap die badkamer binne. Haal diep asem. Die vertrek ruik na urine en sigarette. Ek buk by die wasbak en spat water op my gesig. Weer en weer.

Toe ek opkyk na my beeld in die spieël, staan daar iemand agter my. Hy tree uit die donker in die lig.

VRAAG: Het jy al iemand vasgehou met jou hande, maar nie met jou hart nie?