My gedagtes is deesdae mal-deurmekaar. Vince dink dis omdat ek verlief is. Nita brand vir my. Ek kan dit sien. Sy gee vir my hierdie briefies vol hartjies en stuff. En sy stuur vir my sms’e tot laat in die nag.

Ek dink dis wat my pla die dag van die groot wedstryd teen Hoërskool Redhill.

“Jeez, mater, kry jou kop agter mekaar,” sis Kevin vir my toe ek ‘n kritiese duikslag op Redhill se vleuel mis en die ou oorgaan vir ‘n drie.

Die drie wat ons die wedstryd kos.

Die ouens se skouers hang toe ons terugstap aantrekkamer toe. Ek drentel agter hulle almal aan. Vies vir myself.

Ek is net vaagweg bewus van die ander span se ouens wat ook nou in die gang opstap na hulle aantrekkamer.

Toe ek by my span se aantrekkamer kom, is my bors inmekaargetrek soos ‘n gekoude stuk bubblegum. Dis hoe bang voel.

Ek is die laaste ou in die aantrekkamer. “Maak toe die deur,” roep die afrigter skor na my.

My oë is op die grond. Ek voel die handvatsel onder my natgeswete palm.

En toe raak ek bewus van iemand wat vir my staan en kyk.

Ek kyk op na die oop deur oorkant ons aantrekkamer. Redhill s’n.

Toe ek die ou sien, ruk my binnekant.

VRAAG: Het jy al jou skool of jou sportspan in die steek gelaat?