Die weke gaan verby. Daar is omtrent elke Vrydag of Saterdag die een of ander party. Ek word na ‘n paar genooi. Ander gate-crash ek, Kevin, Vince en ‘n paar pelle.

Nita like my. Baie. Ek kom dit agter, want sy raak deesdae baie aan my. My arms, my bo-bene. “Ek sien die rugby maak van jou ‘n spierpaleis,” fluister sy een oggend met pouse in my oor. Sy lek oor haar lippe.

“Raak dinge ernstig tussen jou en Nita?” vra Vince vir my toe ons na pouse klas toe stap.

“Jy sal graag wil weet, nè?” Dis nie regtig ‘n antwoord nie. Vince kan sy eie afleidings maak.

“Sy soek sy lyf,” sê Kevin. Hy lig sy wenkbroue speels. “Jy moet haar ‘n bietjie vasvat, Brent.”

Ek weet wat hy bedoel.

“Ek wag net vir die regte geleentheid, mater!” sê ek en lag. Maar binne my lag ek nie.

Binne my is ek bekommerd.

VRAAG: Wat maak jou bekommerd?