Daar was niks verkeerd met die soen nie, sê ek vir myself toe ek later die aand in my bed lê. Alleen.

Buite roer die sterre skaars aan die donker hemel.

Daar was niks verkeerd nie. Dit was ‘n great soen.

Nita het dit gelike.

Ek het dit gelike.

Dis hoe dit moes wees. Warm, nat.

Vince het ons aangegaap en Kevin het my na die tyd kom gelukwens. Hy het my ‘n bul genoem. Dalk ‘n stoetbul, ek kan nou nie meer onthou nie. Die ander ouens het so geraas.

Kevin is nou die kaptein van die tweede rugbyspan. Volgende jaar dalk die kaptein van die eerste rugbyspan, selfs al is hy dan net in Graad 11. Ek wil ook volgende jaar vir die eerstes uitdraf. Vleuel. As ek en Kevin dik pelle kan raak, is dit baie moontlik dat dit gaan gebeur.

Ek glimlag. Eerste span! My pa sal ‘n paar hempsknope verloor van trots as dit moet gebeur.

Maar daar is ook iets waaroor my pa nie so trots sal wees as hy uitvind nie …

VRAAG: Wil jy ook hê jou ouers moet trots voel op jou?