Hoe later dit raak, hoe lekkerder raak die party. Ek het al ‘n paar drinks in. Op die dansvloer try die ouens nuwe moves. Die girls wil hulle slaplag. “Jy dans soos ‘n brandsiek buffel,” skree een van hulle vir Vince. Hy wys ‘n middelvinger en gaan aan asof hy die Strictly Come Dancing-kampioen is.

“Brent, kom wys hulle hoe doen ‘n mens dit!” roep Nita.

Ek laat my nie twee keer nooi nie. Ek is op die dansvloer. Die musiek klop deur my. Doef, doef, doef. Ek beweeg sonder om te dink. Ek hoor ‘n paar bewonderende gille. Fluite.

Toe is Nita by my. Teen my. Ek voel daardie lyf waarvan Kevin nou die dag gepraat het. Nita sit haar arms om my.

“Soen my,” sê sy net hard genoeg dat ek haar bo die polsende musiek kan hoor.

My hart mis ‘n slag.

“Soen my, Brent!” sê sy weer.

Ek buig my kop nader na hare.

En ek soen haar.

Maar iets is verkeerd.

VRAAG: Hoe voel dit om iemand te soen?