Die bom bars Maandag voor skool.

“Ek en jy! Agter die gym!” sis Kevin.

“Wat is dit? Wat gaan aan?” vra Nita. Sy draf agter my aan.

Ek weet nou. Dis nie oor die game wat ons verloor het nie. Dit was hy – Kevin. Dit was vir hom wat ek gehoor het.

“Ek sal jou wys wat maak ek met julle gay outjies!” Hy spoeg die woorde een vir een uit. ‘n Kring vorm om ons.

“Wat bedoel jy?” stotter ek. “Ek’s g’n gay nie!” Ek haat die woord. Ek haat myself. Ek haat dit dat ek nie eerlik kan wees nie.

Die eerste vuishou tref my in die maag. Ek vou dubbel. Daar is dadelik trane in my oë.

Kevin is my pel.

Nog ‘n vuishou. Dié keer teen die ken. My tande klap.

Ek hoor die ouens lag.

My hande word vuiste. Ek slaan terug. Drie vinnige houe. Twee daarvan is mis. Die derde een laat die bloed spat uit Kevin se neus.

“Sit mos lekker en handjies vashou met ‘n ou na die game,” sis hy toe hy die bloed afvee. “Dis seker hoekom jy nie daardie laaste drie kon druk nie. Het net gedink aan jou boyfriend.”

Dit word ‘n oomblik lank stil op die skoolgrond. Ek sien vir Nita. Sy kyk my vraend aan, draai om en loop weg.

Toe kom daar nog houe. Nog baie.

VRAAG: Hoe voel jy oor “gay bashing”? En spotname vir gay mense?