Ons verloor die wedstryd. “Los my net uit!” sê ek vir Nita toe sy aan my wil kom hang, my wil kom troos.

Ek is kwaad vir myself. Ek het dit weer opgemors.

Ek vat my tokssak en stap weg van die pawiljoen af, weg van die mense af.

Ek wil alleen wees.

Ek gaan sit op een van die skoolstoepe voor ‘n leë klaskamer. Die son bak oor my bene. Die teleurstelling wil uit my bars. Wat gaan ek vir my pa sê? Hy het soveel verwagtinge van my.

“Sorry oor daardie drie,” sê ‘n stem agter my. “Ek het nogal gedink jy was in.”

Henri kom sit langs my. Ek draai my kop weg.

“Ek weet hoe jy voel. Dit het my ook al oorgekom,” sê hy.

Ek sê niks.

“Is jy kwaad vir my ook?” vra hy. Ek antwoord nie. “Dis oor nou die aand by die klub, nè?” ‘n Ruk lank is daar stilte. “Sorry, ek het gedink jy is ook …”

Ek draai na hom toe. Kyk in sy oë. En vat sy hand. Hy gee dit ‘n druk. “Dis oukei,” sê hy sag.

Dis toe dat ek iemand agter ons hoor. Vinnig draai ek om. Maar daar is nou niemand nie.

WAT DINK JY: Is dit is reg as twee ouens (of vroue) mekaar se hande vashou in die openbaar?