Hartseer sê vir my:
Onverstandig sal jy bly
Jy is soos een wie se oë dig toegegroei is
van mis, lood of grond.
Dat jy in mý vasloop, is onvermydelik.
Jare is ek al jou metgesel
Alles wat skeef geloop het, het aan my geboorte gegee.
Ek swelg jou hart op
Soveelso dat jy oor my angstig in die nag wakker word.
Hongerpyne skreeu nie so hard soos ek nie,
Selfs die ergste hongerpyne.
Die stilte is my metgesel,
want wanneer dit stil is kry ek jou, neul ek aan jou
maak ek seker,
Jy vergeet my nie.

Spyt sê vir my:
Ek ken jou naam, ek ken jou te goed.
Jy probeer my afskud maar ek ken jou taktiek,
ek is geduldig met jou.
Moet nie ’n fout maak nie, want eks elke dag met jou,
eintlik is ek nooit te laat nie
Onthou jy daai keer toe…Nee! Wil nie onthou nie…
Wat van die keer…Los my uit!
Sò stoei jy met my, maar ek is geduldig.
Soos ’n boom wat welig groei in al die seisoene,
so groei ek in jou.
Met die doodskus gee ek erkenning dat ek jou ken.
Ons is mos vriende, onthou jy nie?
Jý het mý geroep en ek het geantwoord
Wanneer jy nadink is dit oor my, as jy sug gaan dit oor my
En wanneer jy so na-aan die einde gekom het, het ek jou daar gebring.
Ek is ’n goeie vriend, herinner ek jou.
Ek sal jou vriend bly, tot die bittereinde toe.

Ek sê aan Geluk:
Waar was jy toe hartseer en pyn so boesem teen my was?
Het jy my nie in die wêreld gebring nie?
Ek het jou eerste geken toe daar met ’n gejuig aangekondig is:
“’n Seun is in die wêreld gebring”
Jy het my onder vals voorwendsels in hierdie wêreld laat inkom.
Ek het gedink jy gaan verewig met my wees.
Ek het jou vertrou, my fondasie op jou gebou
Maar soos ’n dief in die nag, het jy als wat jy my gegee het,
kom steel.
Jy het my kwesbaar gemaak, deur vrede van my af weg te neem
Jy het my vensters van glimlagte gebreek
Vreugde was my ketting, iets om my mee veilig te hou,
maar jy het dit afgeruk.
Jy het vir skaamte gesê: “Jy kan hom oorval”
en vir ellende: “Hy is joune”
Toe ek met een voet in die graf gestaan het, het jý die gat nog dieper gegrawe.

Ek wou jou my vriend maak en met liefde aan jou dink,
maar veral nadat jy eensaamheid en teleurstelling na my kant toe gestuur het, het ek met verdriet
besef
Ek kon nog nooit op jou leun nie.