Brakwater. Hy was nog altyd talentvol en moes vroeg leer swaar beursies ondersteun nie altyd drome wat bruin laaities uitdink nie. Na baie aande van bid en soebat, het sy pa se ellende ’n nuwe begin vir hom geword.

Die skemerson roep aandete wat op warm stoepe afkoel. Bure lag hard oor goedkoop stories waar kroes hare gevleg word en seuns skoolsokkies met die hand was. Hy het vandag hier aangekom. Die reën val swaar oor die verlede: waar huise nou ineengestort lê en ou paaie die gebiede modderig met mekaar verbind. Jongmensmusiek klop uit die nuutste smokkelhuis, en alhoewel dit Maandag is, kla die anties oor jong meisies, dronk onder die arms van matrikulante. Laaities skuil in donker hoekies onder flou stoepligte, skaduwees onherkenbaar vir die ouers wat hul kinders saans loop en soek.

Hy hou op luister. Die laaste bietjie son begin stadig agter die berg rus vind. Net ’n paar huisligte brand en die maan wys sy gesig, ’n prag wat hom kwel as hy dink aan sy pa wat naweke op sypaadjies gelê en sterre tel het.

Dis twaalfuur, middernag, dit is donker en koud. Hy sukkel om die stoepvuur met hout alleen aan die brand te steek, en gryp ’n ou almanak wat gou vlam vat. Hy dink aan sy ma wat agter die huis begrawe is langs die geroeste windpomp, waar hy tien jaar gelede sy besigheid letterlik van die grond af opgebou het.

Hy dink dieper die verlede in, aan toe hy nog in graad 7 was. Die krag het op vyf eenhede gestaan en muf het aan die bakbrood gekleef. Sy maag het nie altyd met rys en eiers oor die weg gekom nie. Die hond het hard buite geblaf, want sy pa was al weer dronk. Hy besluit toe om die oorskietbrandewyn in ’n ou bottel te oornag, want enige dop kos geld. Sy pa het nie die volgende oggend gevra waar dit is nie. Dit is hier waar hy sy idee gekry het, om oorblydrank te verkoop.

In graad 8, op sy eerste dag op hoërskool, en vir die volgende paar jare, pla seer woorde hom. Elke Vrydag ná skool loop hy steeds verby die vullishoop om weggooibottels op tel. Onder lou seepwater het hy die bottels skoongemaak. Tamatiesous-, chutney- en groot mayonnaise-bottels het bêreplek geword vir sy pa se oorskietbrandewyn, wat hy vir die laaste twee jaar van sy skoolloopbaan langs sy ma se graf begrawe en verkoop het.

Dit was ’n Vrydag toe hy by ’n garage aangestap kom. Sy gevreetjie blink van Vaseline en onder lê die stofpad droog oor sy broekspype. Die ouens sit in ’n kring op bierkratte met ’n Blackberry wat musiek vanuit ’n oopgesnyde Coke-bottel speel. Hulle trek beurtelings sterk aan die okkapyp en die een glas wat almal deel, maak sy rondtes. Alles buite lê vergete. Hy staan daar met dít wat lyk soos pis in ’n ou tamatiesousbottel. Hy loop daardie aand vir oulaas kop onderstebo huis toe.

In graad 9 word hy nog steeds misgekyk. Naweke werk hy ná skool by die drankwinkel as ’n pakker. Hy plant nog steeds sy pa se ellendigheid in die grond. Die geld was min, maar werk is werk. Sny oop, tel, draai vas, pak weg – vir een hele jaar was dit sy lewe voor hy genoeg voorraad gehad het om te begin verkoop. Toe hy in graad 10 kom, was hy gatvol. Sy pa het onophoudelik gedrink en die kinders by die skool wou nie ophou skoor soek nie.

Hy gaan lê toe in die skoot van sy oorlede ma, wang teen klip en hande klouend aan die grond en besluit: dit het tyd geword. Graad 11, elke einde van die maand se Allpay met rye wagtend op geld vir ’n dop in die hand. Dronkenskap loop ryk oor die kalender. Jonk en oud, swanger of nie. Twenty-firsts, parstyd en busse vol trippies. Troues, begrafnisse en Desember tot Januarie-feestye – niks gaan goedkoper af sonder ’n brakwater-doppetjie nie. Baie het geraas gemaak, maar wie sou hóm verdink?

Toe hy met graad 12 begin het hy sy geld getel. Graad 12. Onder ’n skuilnaam het sy brakwater-dop hom baie in die sak gebring. Hy kyk uit oor die honderde toegegooide gate in die grond. Hy sug oor wat dit gekos het, en steeds sal kos om elkeen vol te hou. Die jare loop toe gouer verby in die stad, veral as mens vroeg sukses behaal het. Hy word wakker op die stoep langs die verbrande almanak en skink ’n dop.