Dronkgeslaan en verlate staar ek blindelings voor my uit. Hoe kan mense so gewetenloos wees, my eie mense, ná als! Ek wat Marie is het vir weke aaneen gebid dat God vir Jan nog moet spaar, ter wille van ons vier kinders. Nadat ek my werk moes bedank om na die bedlêende Jan moes omsien. Toe is die sogenaamde familie van hom nêrens te vinde nie. Maar toe hy sterf, toe daag hulle skielik op vir die begrafnis, ná hulle ’n jare lange familie-onderonsie gehad het.

Hoe moet ek as ma vir my kinders sê dat hulle nou op straat ook gaan wees? Dat hul eie ooms en tantes hulle uitskop omdat ek en Jan nie meer bymekaar is nie. Ek het nog nie een keer kans gehad om troos te vind oor my man se dood nie. Die afgelope week was ek op en af soos ’n hond wat aanhoudend blaf. Alles net om begrafnisreëlings te tref en wanneer ek tyd gehad het om my gedagtes te laat dwaal, was dit ook maar net in een rigting: Hoe ek as enkelma vir my kinders gaan sorg. Hoe gaan ek dag na dag vir my kinders kos vind om te eet en klere om te dra? Die winter is om die draai, maar dit is nou die laaste van my bekommernisse, noudat ek moet rondhardloop vir ’n dak oor ons koppe. Maar nêrens kom ek reg nie. Almal klap die deure in my gesig toe, selfs familie.

Vir die eerste keer die Saterdagaand tjank ek soos ’n baba wat soek na haar bottel. Hoe kan mense so gewetenloos wees? Die tyd toe ek my werk opgegee het, was daar ook basies geen inkomste nie, en ek, die slegte vrou, moes op en af draf vir kos soos ’n hond wat ’n been soek tussen rommel. Ek word nou soos gemors behandel, die swart vrou van Jan! Hulle vergeet hoe hulle na die einste huis gekom het pm te kom broodgeld vra sodat hul kinders kan eet. Ek het soms van Jan se geld gesteel om hul bekke vol te hou!

Jan se familie het begin glo dat ek die rede agter sy verandering was. Eers was dit ’n goeie ding, siende dat hy vreeslik agteruitgegaan het ná skool en sy lewe amper tot ’n verwoesting gekom het. Sy ouers was toe nog in die prentjie gewees. Jan se ouers was die soort outydse Bolandse mense wat heelhartig in hul geloof vertrou het. Toe het dinge nog vlot verloop in die familie en huisgesin. Dit was eers ná sy ouers in ’n kop-aan-kop-botsing was, en op die toneel dood verklaar is, dat die familie heeltemal uitmekaar geskeur het.

Daarna het ek en Jan met ons kinders geswerf, van een huis na ’n ander. Dit was Jan se jongste suster se idee dat ons moes intrek in Jan se ouerhuis, maar dit was die grootste fout! Kyk waar sit ek nou: sonder ’n man, geld of dak oor my kinders se koppe. Jan het nooit daaraan gedink om vir sy geliefde vrou en kinders ’n herberg te koop of te laat opslaan nie. Hy het nie gedink waarheen ons sou gaan sou hy voor my sterf nie. Nou word sy kinders stief behandel deur hul eie mense – dit nadat ons sy ouerhuis so mooi opgepas en versorg het.

Die een mens wat my kon vertroosting gee is vandag gebêre. Vêr weg gebêre. Ses voet onder die grond. Jan Bruiers – ’n arrogante, ongemanierde buffel as hy tyd gehad het. Tog was hy van die uitstekende uitverkorenes as dit by sy kinders gekom het. ’n Onbreekbare band het hy met hulle gehad, een wat my soms laat stilstaan het. My laat wonder het: Is dit die man wat ek al vir jare ken?

Soms ’n hou of twee van hom af teen my wang, net om my terug na die werklikheid te bring. “Hoe gaan ons oorleef sonder jou? Sê my hoe?” het ek teen sy bors gepraat, geskree en gebaklei, terwyl my oudste sê: “Pa, is weg. Hy’s vir ewig weg.” Dis so ’n swaar pil om te sluk. Ons is beroof van ons steunpilaar. “Wat beteken ons huis sonder ’n vader?” hoor ek hoe my tweede oudste homself dit afvra. Hoe hy oor en oor en oor met daardie vraag worstel. Op soek na ’n antwoord wat ek hom nie eers kan bied nie.

Jan het longontsteking opgedoen by die werk maar geweier om dokter toe te gaan. Naderhand het hy so siek geword dat hy die werk moes los en ’n dag later kon hy nie uit die bed roer nie. Ek, Marie, het hom so versorg tot die dood. Ek het probeer uitreik na sy familielede, maar die manier hoe hulle paaie geskei het was steeds ’n groot klip in die pad van hul vrede. Sodoende het hulle nooit eens een keer kom kyk of gevra hoe dit met hul broer gaan nie. Ek het so aanhoudend gebel, dat hulle naderhand nie meer hulle fone geantwoord het nie.

Jan het twee maande lank so gely en uiteindelik sy oë verlaas toegemaak. Al het ons hoe gesukkel, het ons nooit na familie toe gegaan vir hulp nie, juis omdat ons reeds geweet het wat die uitkoms sou wees. Ek en Jan het ons verskille gehad, ja dis waar, maar ons het altyd weer mekaar teruggevind aan die einde van die dag. In mekaar se arms. Dit was oor Jan maar altyd net die waarheid gepraat het dat sy familie teen hom was. Hulle het my nog altyd gehaat en was al te vinnig om my te skop terwyl ek lê, omdat hulle hulle verlekker het daarin. In my pyn.

*****

Die volgende oggend staan ek op met ’n verskriklike hoofpyn wat klop-klop sy verskyning maak, maar ek ignoreer dit. Alles omdat ek my moederlike pligte moet nakom om kos op die tafel te sit. Dit is ons laaste week in die huis voor ons moet uittrek, maar die kinders weet dit nie. Dis toe die gedagte by my opkom … Rattex. Dit sal ons pyn en swaarkry verlig. Ons sal op ’n beter plek wees. Ek sal nie hoef te sien hoe my kinders saam my moet swerf en houtjies optel net om vuur te maak sodat hulle kan was en eet nie. Harteloos, dié is ek nie! Dit is juis omdat ek so baie vir hulle omgee dat ek dit doen.

Ek roer die wit pap. Berei dit voor na hulle smaak, net soos hulle daarvan hou. Ek voeg die Rattex by en laat dit deurkook. Ek roep hulle na die tafel om te kom eet. Die jonger twee hardloop in die kombuis in met sprankelende gesigte en ’n geskaterlag. Die tweede oudste kom aangestap, steeds moeg, gaap en strek hom uit voor hy by ons aansluit. Die oudste is nog nie in sig nie, dus roep ek weer. Ná ’n lang gewag sluit sy uiteindelik by ons aan, reg vir die dag. “Môre julle,” groet ek met ’n glimlag en hulle groet terug sonder dat hul weet ek het ’n verskuilde motief.

Hulle hap na die pap en niemand let op dat daar rottegif in is nie. Tot my verbasing vra almal ’n tweede porsie. Met ’n seer en swaar hart skep ek vir hulle en vir my nog in. Asof die eerste porsie gif nie genoeg was nie. Die jongste begin uitspattig verstik en hoes, gevolg deur die res. Die gebraak en gesnak na asem duur ’n paar minute. Die oudste kyk my in die oë met haar laaste woorde: “Ma!?” en sy slaan plat neer op die grond, terwyl haar broer braak. Dit is asof die gif wou hê ek moet sien hoe my kinders swaarkry en ly voordat dit my vat. Stil maak ek my oë toe en laat toe dat dit my oorheers. “Vergewe my Heer,” stuur ek ’n skietgebed op na die Hemelse Vader.

***