Wie? My ouma? Sy is my alles. Sy is my tweede ma, of nee sy ís my ma. Sy is … was my steunpilaar. Sy was my mode-ikoon, sy was die een wat my kwaad gemaak het, maar sy was ook die een wat weer ’n glimlag op my gesig gesit het.

Sy was die tipe persoon wat elke Sondag eerste in die kerkbanke gesit het. My ouma het altyd met ’n positiewe bril na die lewe gekyk ten spyte van al haar struggles. Sy was die een wat altyd die goeie kant in mense raakgesien het. Sy was die tipe persoon wat altyd rondgehardloop het om haar medemens te help. Nou waar was hulle toe sy in die nood was.

My ouma was pragtig, vriendelik en liefdevol. Mammie, kom net terug na my toe asseblief. Ek belowe jou ek sal nie kwaad raak as jy op my skel nie, ek sal alles doen wat jy vir my sê. Hoekom moes jy my net so verlaat? Hoekom?

Ek is lief vir jou, Mammie. Maar dis seker nou te laat, nè? Ek moes dit gesê het toe jy nog hier was. Op 7 Februarie 2021 het die Here my ouma kom haal. Dis ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie.

Hoekom? Hoekom sy, Liewe Jesus? Hoekom?

***