God gun ons elke dag ‘n tweede kans in die lewe. En ons noem dit môre.

Ek het vir Jay-cee Damon leer ken op skool. Ons het nie eintlik op skool met mekaar gepraat nie, maar later het ons begin korrespondeer via Facebook. Later het ons in ‘n verhouding verkeer en is tans steeds in een.

Ons albei was betrokke by satanisme. Dit het veroorsaak dat die pendulum vir ons in die verkeerde rigting geswaai het. Alles het van daar af in ‘n afwaartse spiraal geloop. Dit was die werk van die duiwel. Jay-cee was geskors by die skool as gevolg van valse berigte wat die rondte gemaak het op ons skool aangaande satanistiese bedrywighede.

Daarna het Jay-Cee homself werkloos bevind. Dit was ‘n baie frustrerende tyd vir Jay-Cee. In hierdie tydperk het Jay-Cee homself in ‘n rehabilitasie sentrum bevind, as gevolg van dwelms misbruik. Kort daarna het hy werk gekry by Hungry Lion, maar het te te neergedruk gevoel deur sy mede werkers. Hy was later so oorweldig met negatiewe gedagtes dat hy talle pogings aangewend het om sy lewe te beeïndig. Sy laaste poging was amper noodlottig en hy het nie bekend gemaak wat die motief was agter sy selfmoordpoging nie. Hy het rotte gif ingeneem. Die gevolg daarvan was dat hy vir ‘n week lank in ‘n koma gelê het. Daarna het God hom nog ‘n kans gegee op oorlewing. So het ons ons geloof stadig maar sekerlik terug gekeer na God. Daar was steeds hierdie donker wolk wat oor Jay-Cee gehang het…

Nadat Jay-Cee terug op die been en gesond was, was hy oorrompel met gedagtes van hoekom en waarom hy steeds op aarde is. Die gedagte het telkemaal by hom gespook. Hy het gedink dat hy net ‘n mors van spasie is op aarde. Dit het tot gevolg gehad dat hy dwelms gebruik het om hierdie denke te onderdruk, net om vir ‘n paar uur te vergeet van al sy probleme. Dit het weereens daartoe gelei dat hy verslaaf geword het aan dwelms. Hy het toe met sy ouers gepraat oor die moontlikheid om na ‘n rehablitasie sentrum te gaan vir die behandeling van sy dwelmverslawing.

Jay-Cee was vir ‘n tydperk van een maand in die rehablitasie sentrum. Daarna het hy weer depressiewe gevoelens ervaar. Hy het meer moedeloos begin voel. Sy antwoord of eerder sy ‘genesing’ vir hierdie gevoelens was uiteindelik weer dwelms. Op ‘n manier was dit sy skree vir hulp.

Hy was vir ‘n tydperk werkloos en dit het beteken dat hy geensins ‘n inkomste gehad het om dwelms mee te koop nie. Dit het daatoe gelei dat hy van sy ouers se besittings, selfs geld in groot bedrae, gesteel het, om sy lus te stil vir dwelms. Sy ouers het hom verbied om in hulle huis te bly na sy rebelieuse gedrag. Hy het daarna by familielede tuis gegaan. Van hierdie familielede het ook dwelms misbruik. Dit het sy omgewing nog meer toksies gemaak. Hulle het daagliks oop en bloot voor Jay-Cee sit en dwelms rook, en natuurlik sou dit enige dwelm misbruiker se gedagtes stimuleer om dit nog net een keer te doen. Een keer het gelei tot baie kere. Hulle was ‘n slegte invloed op Jay-Cee.

In daardie tydperk het Jay-Cee se gedagtes ‘n ommeswaai ervaar. Ons het diep gesprekke met mekaar gehad oor die lewe en ek onthou sy woorde soos gister: “Reeva, ek wil nie meer my lewe so opmors nie. Ek sien elke dag hoe die jeug agteruit gaan en wil nie meer deel wees daarvan nie.”

Dit het my herinner aan die gesegde: “Whenever you find yourself on the side of the majority, it’s time to pause and reflect.”

Dit is presies wat Jay-Cee gedoen het.

Jay-Cee het daarna ‘n re-unie met sy ouers gehad en hy het tot die besluit gekom dat hy verder wil studeer en dat hy wil strewe na beter. Hy het vir oudisies gegaan en is so waar aanvaar na sy derde poging. Hy is tans ‘n student by Chrysalis Akademie. ‘n Ware Alpha 2018!

Soos die spreekwoord sê: “Difficult roads often lead to beautiful destinations.”