Die herstel

Tydens sy vertoef in die hospitaal het Leonard oor baie dinge nagedink. Hy was ‘n beroemde sokkerspeler. Nou was hy afhanklik van mense om hom in ‘n rolstoel rond te stoot. Eens het sy sterk bene hom gehelp om skares te vermaak. Nou wou sy bene nie op hul eie beweeg nie.

“Is dit die einde van my sokkerloopbaan?” het hy gewonder. “Sal ek ooit weer hoor hoe die skare “Shoooooes!” skreeu wanneer ek die bal in die middelveld kry en koers vat doelpale toe?”

Eendag het die dokter, wat Leonard behandel het, na hom toe gekom om met hom te praat. “Meneer Gregory,” het hy gesê, “ek weet nie hoe jy op die volgende nuus gaan reageer nie. Die ongeluk het beteken dat jy nooit weer soos voorheen jou bene sal kan gebruik nie. Die lewe is nou maar so, Meneer Gregory. Dinge gebeur soms wat ons nie verwag of wil hê moet gebeur nie.”

Die dokter het stilgebly en op Leonard se reaksie gewag.

“Ek verstaan, Dokter,” het Leonard sonder huiwering glimlaggend gesê.

Die dokter was verbaas dat Leonard die nuus so goed hanteer het. Hy het toe aangegaan, “Jy sal die res van jou lewe in ‘n rolstoel deurbring of jy sal krukke moet gebruik.”

“Ek verstaan heeltemaal Dokter,” het Leonard moedig geantwoord. “Ek weet dat God my die vermoeë sal gee om hierdie nuwe leefwyse te aanvaar.”

Die dokter het toe besef dat Leonard sy lot aanvaar het. Hy het Leonard ‘n goeie nagrus toegewens en belowe om hom weer die volgende dag te sien.

Nadat die dokter weg is, het Leonard nagedink oor die nuus wat hy gekry het. “Wat beteken dit alles vir my?” het hy homself afgevra. Hy het aan homself gevat om seker te maak dat hy nie droom nie. Hy het probeer om sy bene te skud.

Leonard was egter bekommerd oor sy familie. Sou sy vrou en kinders hom aanvaar soos hy is? Wat sou met hulle gebeur noudat hy nie kon loop nie? Sou hy vir hulle, as vader en as man, kon sorg? Hierdie soort vrae het hom snags wakker gehou.

Hy het in ‘n Christelike huis grootgeword en was altyd geestelik sterk. Hy het aan sy ouma, Lilly, gedink wat altyd ‘n groot invloed op sy lewe as jong seun gehad het.

Shoooooes 5

Lilly, Leonard se inspirerende ouma, met sy suster, Sonia, en sy ma, Florence, na Sonia se eerste Heilige Nagmaal seremonie.

Sy was gestremd as gevolg van ‘n slangbyt. Sy het ‘n boggelrug gehad en was altyd kort van asem, maar het altyd ‘n sterk geloof in God gehad. Leonard se geloof in God was ‘n groot steun vir hom gedurende hierdie moeilike tyd.

Toe, na baie weke, het Leonard se familie hom in die hospitaal in Pietermaritzburg kom besoek. Dit was ver van Kokstad af. Hulle was baie bly om mekaar weer te sien. Hierdie besoek was ‘n groot verligting vir Leonard.

Sy familie het hom nie oor sy gestremdheid verstoot nie. Hulle het hom aanvaar en aangemoedig om voort te gaan met sy planne. Leonard het ook baie ondersteuning van vriende en die kerk ontvang.

Leonard is aangemoedig deur die besoek van familie en vriende. Hy het vir ‘n oorplasing na ‘n hospital nader aan sy huis gevra, sodat sy familie hom meer gereeld kon besoek. Gou was hy sterk genoeg om na sy familie huis toe te gaan.

Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, het Leonard elke dag oefeninge gedoen om sy bene te versterk. Alhoewel dit baie moeilik en pynlik was, het hy volgehou. Kort daarna kon hy sy bene met behulp van krukke gebruik.

Shoooooes 6

Leonard en Sylvia hernu hul huweliksbeloftes en deel die Heilige Brood by die Christian Fellowship Kerk (Mei 2000).