Sipho

“Ek wonder wat hulle wil hê,” het Gloria gesê, terwyl sy na vyf groot seuns wys wat na hulle toe loop waar sy en Sipho op die banke sit gedurende pouse.

Toe hulle nader gekom het het Sipho hulle herken. Hulle was Graad-11’s. Hulle het altyd tydens pouse ’n groep meisies om hulle, besig om met hulle te lag en flankeer. Hulle was aantreklike, fikse seuns wat bewonderaars gehad het wat dink hulle is koel.

Wat wou hulle van hom hê – ’n studiebeurs nerd?

“Haai Sipho – die nuwe kind in die buurt,” het die langste een in die groep met ’n grinnik gesê, terwyl hy Sipho se hand geskud het. “Ek’s Jaco en dit is Ricardo en dit is John.”

Al die seuns het Sipho se hand geskud. Gloria het die hele tyd hulle aangegluur. Sipho het ’n vonkie woede teenoor haar gevoel. Wou sy nie hê dat hy maats maak nie? Sy het geweet hoe hy probeer het om in te pas, en hier was nou ’n groep seuns, die koelste ouens in die skool, vriendelik met hom, en sy was besig om hulle aan te gluur. Dit het nie dinge makliker gemaak nie.

“Kom ons gaan , Sipho. Die klok het gelui.” Gloria was nou al ’n paar meter weg. “Jy hoef nie met sulke mense te meng nie.”

“Watse mense?” het Jaco gelag. “Wat het ons gedoen?”

“Jy weet wat julle gedoen het,” het Gloria gesê. “Hoekom pik julle nie ’n slag op iemand van julle eie grootte nie.” Toe het sy na Sipho gedraai. “Kom jy nou of nie?”

Hy het geaarsel, verdeeld. As hy saam met haar gegaan het, sou dit onbeskof wees teenoor hierdie seuns. Hy kon nie bekostig het om meer vyande te maak nie, veral nie met die Graad-11’s nie. En, ten slotte sal hulle vriendskap hom dadelik gewild maak. Hy sou uiteindelik ingepas het. Hy het dus net gekyk toe Gloria weg gestorm het.

“Moenie jou oor haar bekommer nie, Sipho,” het die een wat John genoem is geroep, terwyl hy sy hand op Sipho se skouer gesit het.

“Luister Sipho, ons weet wat met jou gebeur het, en dis nie reg nie. Ons weet jou klasmaats het jou geboelie. Hulle is regte verloorders; hulle het almal gedop en nou wil hulle jou laat boet vir hulle foute. Ons wil jou daarvan beskerm. As jy by ons bly, sal niemand weer met jou mors nie.”

Sipho het geglimlag. Dit was towerwoorde vir sy ore. Hy moes egter kalm lyk. Hierdie ouens moes nie sien hoeveel hy hulle vriendskap juis nou nodig gehad het nie. Maar hoekom was Gloria so aggressief? Wat het sy bedoel toe sy gesê het hulle moes op iemand pik wat hulle eie grootte is? Hulle het niks aan haar gedoen nie.

Dus het Sipho net daar gestaan en geglimlag en onseker gelyk.

Die seuns het na mekaar gekyk en gegiggel. “Ag, man, moenie worry wat Gloria gesê het nie. Sy’t net skinderpraatjies gehoor. Jy weet skinderpraatjies. Daar’s geen waarheid in nie,” het Ricardo gesê en sy hand baie vriendelik op Sipho se ander skouer gesit. “Ons sal na jou kyk.”

“Ja. Ons bied jou ons beskerming en vriendskap. As jy eers by ons groep geïnisieer is sal ons vir ewig getrou bly. Ons sal jou oppas.”

Sipho se hart het in sy bors begin hamer, “Geïnisieer?”

“Moenie bekommerd wees nie, Sipho. Dis nie wat jy dink nie. Dis net soos om deel van ’n klub te word – jy moet jou lidmaatskap verdien. Is jy reg om dit te doen?”

“So wat moet ek doen?” het hy gevra en probeer om ontspanne te klink.

“Moenie nou daaroor bekommerd wees nie,” het Jaco geantwoord. “Ons sal jou wys as die tyd reg is.”

“Dit sal ons klein geheimpie wees,” het John gesê.

Die sirene het afgegaan om die einde van pouse aan te dui toe hulle saam oor die veld gestap het. Toe hulle by die vierkant gekom het het Jaco hom ’n hoë vyf gegee. Dit was of ’n skakelaar skielik aangegaan het: skielik het al die meisies vir Sipho opgemerk. Dit het goed gevoel.

Die uitdrukking op die Graad-8 boelies se gesigte het ook goed gevoel. Dit was vir hulle ongelooflik om Sipho omring deur sy nuwe vriende te sien – seuns waarvoor hulle self bang was. Uiteindelik het hy ingesluit gevoel.

***

Vertel ons wat dink jy: Wat sal ‘inisiasie’ in hierdie bende behels?