Sipho

Dinge het nie verloop soos beplan vir Sipho nie. Slegs ’n paar maande gelede het hy en sy ma sy studiebeurs saam met Agnes en haar kinders gevier. Nou het hy gevoel asof hy niks meer het om te vier nie. Ja, hy het akademies goed gevaar by sy nuwe skool, maar in elke ander opsig het hy gefaal. Hy het nie vriende gemaak nie; die enigste geselskap wat hy gehad het was Gloria. Daarbenewens is hy deur die ouer seuns in die klas geboelie, dié wat ’n jaar agtergebly het en daarop uit was om sy lewe misrabel te maak. En dit was.

Vandag was die eerste oggend van die tweede kwartaal. Sipho het na die horlosie op die stoel langs sy bed gekyk. Hy het verslaap. Dit was sewe-uur. Hy sou weer laat wees.

Toe hy by die nuwe skool begin het sou hy nooit gedroom het om ooit laat te wees nie. “Jy moet betyds wees vir skool my kind,” was wat sy ma vir hom gesê het daardie eerste oggend toe hy sy nuwe uniform aangetrek het en sy skoene blink gepoets het voordat hy op die bus geklim het. “Om laat te wees sê vir mense jy is lui en gee nie om nie.”

Maar om laat te wees het vinnig geblyk om een van Sipho se verdedigingsmeganismes teen die boelies te wees; ’n manier om te oorleef. As hy laat was sou hy hulle nie sien as hy aankom nie, en veilig in detensie wees aan die einde van die dag. Op daardie manier het hy die ergste geboelie vrygespring, wat gebeur het ná skool op pad na die busstop toe.

Maar hierdie kwartaal wou Sipho hê dat dinge moes verander. Hy wou betyds wees. Hy het vir homself gesê dat hy van die slegte herinneringe van die eerste kwartaal moes vergeet – dit als wegsluit, iewers. Hy moes begin om betyds te wees, en nie meer bang wees om in die boelies vas te loop nie.

Nogtans, toe hy van die bus afklim was dit reeds 8.30. Hy het met die pad afgehardloop na die skool se hoofhek wat omring was met hoë bome. ’n Motorweg het van die hek tot by die ou kerkagtige geboue van die skool en verby ’n reusesportveld gelei. Toe hy deur die hekke gehardloop het het sy ergste vrees waar geword: Sipho is deur Mnr van die Merwe self voorgelê. Die Hoof. Daar was geen manier waarop hy kon ontsnap nie.

“Hoe laat dink jy is dit?” het die Hoof gevra. Sipho se moed het gesink toe die Hoof hom na sy kantoor beveel het, hy het begin paniekerig raak. Hy was nog nooit voorheen na die Hoof ontbied nie. Hy het kort agter Mnr van der Merwe gevolg terwyl hy met die pad langs geloop het, oorkant die vierkant en deur die hoofdeure van die gebou. Sy kantoor was regs, langs die portaal. Nadat hy ’n rukkie met sy sleutels gepeuter het, het hy die deur oopgesluit en Sipho laat inkom.

“Jy weet, ek hou nie daarvan om dit aan een van my slimste leerlinge te doen nie, maar jou laatkommery het regtig nou ’n slegte gewoonte geraak. Jou onderwysers het gesê dat jy laas kwartaal pal laat was. Dit is die eerste dag van die nuwe kwartaal en jy begin alweer laat. Die ander studente sal dink ek bevoordeel jou as ek jou laat gaan.”

Sipho het stories gehoor wat met ander studente gebeur het wat na die Hoof se kantoor gegaan het. Maar hy moes dapper wees. Hy moes probeer om sy weg uit hierdie gemors te verduidelik.

“Maar daar is ’n verduideliking Meneer.”

“Die tyd vir verduidelikings is verby Sipho. Ek stel nie belang nie. Jy kon laas kwartaal jou situasie aan my kom verduidelik het, maar jy het nie.”

Sipho het stil gebly. Miskien moes hy lank gelede reeds vir Mnr van der Merwe oor die geboelie vertel het. Maar die ouens het hom met erger viktimisasie gedreig indien hy ooit sou vertel. Miskien sou die Hoof hom geglo het indien hy eerlik was oor wat regtig aangegaan het. Maar dit het ook snaaks skandelik gevoel om te erken dat hy geboelie word. Wat ookal – te laat nou!

Mnr van der Merwe het na sy kas gestap, die deur oopgemaak en iets uit gehaal. Sipho het gevries daar gestaan. Mnr van der Merwe het gekry waarna hy gesoek het en omgedraai. In sy hande het hy wat deur die ander seuns die ‘gaan-huistoe-jy’s-geskors’ brief gehou.

“Ek veronderstel jy weet wat dit is?” het Mnr van der Merwe gesê, en die bladsy in die lug gehou.

Sipho het geknik. Hy het geweet dit was die skorsingbrief wat die Hoof gebruik het om studente weg te hou totdat hulle hul ouers skool toe gebring het. Dit was hoe hulle skool straf hanteer het.

“Om stil te bly gaan jou nie help nie, Sipho. Jy moet dit teken en na jou ma neem. Ek wil hê sy moet my kom sien. Ek wil hê jy moet beloof dat jy sal ophou laat kom, want as jou gedrag aanhou sal ek verplig wees om jou uit die skool te sit.”

Sipho was geskok. As hy nie ’n manier kon kry om die geboelie te stop nie, sou hy gedwing wees om weer laat te kom en die Hoof sou hom uitskop.

Dinge moes verander. Vinnig.

***

Vertel ons: Het jy al ooit gesien dat boelies soveel vernietigende krag oor ’n skoolmaat het? Wat het gebeur?